Nuy Wynkelder se Keldermeester aangewys as Worcester/Breedekloof Wynmaker van die Jaar

Nuy Wynkelder se keldermeester, Christo Pienaar, is op Vrydag 2 Desember aangewys as die Worcester/Breedekloof se Wynmaker van die Jaar. Hierdie gesogte toekenning, nou in sy vyfde jaar, in die huidige formaat, word jaarliks aan ‘n wynmaker uit die Worcester en Breedekloof areas toegeken.

“Dit is lekker om jou wyne te meet teen ander wyne uit dieselfde streek. Ons werk almal met baie van dieselfde natuurelement, dit maak die kompetisie baie uniek,” sê Pienaar.

Die tweede plek is ingeneem deur C.P. Conradie van Conradie Penhill en die derde plek is deur Stettyn Kelder.

Die kompetisieformaat en -beoordeling het as volg verloop: elke kelder skryf drie tot vyf wyne in wat in hul proelokaal te koop aangebied word. Die agt kategorie waarin die wyne beoordeel word is Chenin Blanc, Chardonnay, Sauvignon Blanc, rooi- en witversnitte, Pinotage, Cabernet Sauvignon en gefortifiseerde wyne.

Die onafhanklike beoordelingspaneel het bestaan uit vyf lede wat die wyne blind geproe het.

In elke afdeling word die Top 5 aangewys.

Die wynmaker wat die beste punte behaal in die onderskeie afdelings word as “Wynmaker van die Jaar” aangewys. Die jaar se beoordelaars is: Tom Block (sameroeper) - Kaapse Wynmeester Nina-Mari Bruwer - Kaapse Wynmeester Danie Marais – Wynmaker by Windmeul Kelders Francois van Niekerk – Wynmaker by Wellington Wines Cobie Viljoen – Konsultant Wynmaker in Hermanus.

Somer Kos-en-Wynpasmaats onder eikebome by Catharina’s

Maak die meeste van die Kaapse somer en geniet die nuwe al fresco Kos-en-Wynpasmaats in die skadu van ou eikebome by Catharina’s Restaurant op Steenberg – een van die juwele van die Constantia-vallei, slegs 30 minute van die Kaapse middestad.

Wynliefhebbers op soek na ‘n ontspanne middag kan daagliks vanaf 12h00 to 17h00 kies tussen twee sout-opsies. Beide bestaan uit drie Steenberg wyne wat perfek pas by smullekker happies voorberei deur Catharina’s se avontuurlustige uitvoerende sjef, Archie Maclean. Vir diegene met ‘n soettand, het sjef Archie ook ‘n luukse nagereg-opsie geskep vir die ideale bederf saam met drie Steenberg wyne. Vir die sout-opsies teen R275 per persoon word ‘n slaai van gerookte salm, feta en okkerneute bedruip met ‘n lemoen-en-kardemomsous bedien saam met die verfrissende Steenberg Sparkling Sauvignon Blanc.

VAN LOVEREN SE UITSTAANDE PRESTASIES SKEP REGTE ATMOSFEER VIR DIE FEESTYD

Van Loveren, die bekende Robertson Vallei-wynplaas, het rede om breëbors te wees, nadat nog twee uitsonderlike medaljes by vanjaar se Veritas-toekennings, by sy indrukwekkende lys gevoeg is. Die kelder se wyne is by dié kompetisie - een van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se voorste geleenthede - vereer, maar spesiale hulde is ook aan die broers, Nico en Wynand Retief, gebring toe hulle as Lewende Legendes vir hul bydraes tot die wynbedryf uitgesonder is.

DIE ALLÉE BLEUE CHICNIC MIDDAGETES IS TERUG!

Die bekroonde landgoed, Allée Bleue, nooi families uit om ’n heerlike dag op die grasperk van hul pragtig-versorgde tuine in die wynlande deur te bring - terwyl julle weglê aan die gewilde pieknieks wat nou al ’n instelling geword het.

Die landgoed is die ideale piekniek-plek met ’n omheinde, beskutte tuin, uitgestrekte wingerde en uitsigte oor die Drakensteinberge. Hier kan jy in die skadu van die reuse akkerbome ontspan in die lang somersdae.

Net soos die eienaars, Friedrich-Wilhelm en Elke Dauphin, 17 jaar gelede nuwe lewe gegee het aan die landgoed toe hulle dit gekoop het, het die nuwe gasvryheidsbestuurders, Kevin en Berdine Jansen, nou weer nuwe lewe geblaas in die pieknieks. Die paartjie het met drie nuwe aanbiedinge verseker dat daar nou iets vir elkeen is, terwyl jy jou dag op die landgoed geniet. Elke mandjie is tot barstens toe vol heerlike vars eetgoed wat uit die landgoed se vrugbare grond kom en daar is spesifieke klem gelê op Allée Bleue se spog-kruie.

SLUK JOU WOORDE - VITIS VINIFERA GOUE

Die enigste ware en opregte Afrikaanse wyn-reeks het pas talle ander wynprodusente na hul asems laat snak toe sy wit versnit ‘n goue medalje by die jaarlikse Vitis Vinifera-toekenings ontvang het. Sluk jou Woorde, met 'Elke sluk vertel ‘n Storie' as slagspreuk, ‘n wynreeks met unieke en humoristiese etikette, se twee versnitte, Loslyf en Rinkink, het ‘n goue medalje by dié gesogte verbuikerskompetisie gewen.

Sluk Jou Woorde is ‘n prettige wynreeks wat jou na die volgende bottel sal laat soek – oor die inhoud gewis, maar beslis ook oor die uniek-ontwerpte etikette en die storie wat dit vertel.

Die Vitis Vinifera-toekennings is gemik daarop om goeie wyne te beloon vir hul verbruikersvriendelike bekostigbaarheid en gehalte en lê nie soseer klem op die eksklusiwiteit van wyne nie. “Ons is eksklusief in eie reg deurdat ons etikette enig in sy soort in die wêreld is,” sê Carinus Lemmer, een van die eienaars van Sluk jou Woorde.

“In noue samewerking met dr. Willem Botha en sy span woordtowenaars van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), neem ons amusante en soms ongewone Afrikaanse woorde, beskryf dit met humoristiese wynterme en plak dit op ons voorste etikette.

Die agterste etiket dra die amptelike WAT-verklaring vir daardie woord. En net so terloops, met elke bottel Sluk jou Woorde wat verkoop word, gaan ‘n lekseltjie aan die WAT sodat hulle met hul goeie woordontdekkings kan voortgaan."

Volgens dr. Botha was dit groot pret vir die redaksie van die WAT om te help met die bewoording vir die etikette: "Die Sluk jou Woorde-wynreeks verteenwoordig 'n nuwe en vrolike gebruik van Afrikaans in die wynbedryf. En as die humor in die voorste etikette die meer ernstige wyngebruikers verwar, is daar steeds die wetenskaplike WAT-definisie op die agterkant van elke bottel Sluk jou woorde. “Maar dit beteken nie dat ons wyne ‘n gebrek aan eksklusiwitiet het nie. Hierdie wit versnit is spesiaal deur Koelenhof-kelder buite Stellenbosch vir ons versny en die kundige en bekwame hande van die wynmaker Martin Stevens het gesorg dat die beoordelaars goud proe toe Sluk jou Woorde se wyn in hul glase beland het.” Die versnit bestaan uit 50 % Chenin Blanc, 40% Sauvignon Blanc en 10% Semillon, om ‘n vrugtige skerp wyn te skep.

Die Chenin Blanc-druiwe is in die mooi Wellington-vallei geoes met gevolglike vrugtige Mediterreense klimaat Chenin Blanc-geure. Die Sauvignon Blanc- en Semillondruiwe is in die koeler Stellenbosch-streek geoes wat ‘n ongekende varsheid en ‘n effense suur by die wyn kon voeg.

Sluk jou Woorde is ‘n ongekompliseerde, maar hoogs drink- en bekostigbare wit wyn. Dit is ‘n goeie pasmaat vir hoender, vis en enige ander somerskos – of op sy eie.

En so klink Rinkink en Loslyf se beskrywing:

Rinkink ww. 'n Vars, avontuurlustige woord met 'n titseltjie ondeundheid, bv: Trek jou mooi aan, Poplap, vanaand gaan ons rinkink, of Eers gaan ons drink, dan rinkink! Bedien witwarm met doef-doef musiek.

Loslyf s.nw Volronde woord met goeie struktuur. Delikate geure van appelkoos en vy. Goed ontwikkel. Toeganklik. Ideaal vir 'n horisontale proe, bv: Mooiding, gooi daai loslyf hierdie kant toe, of Johan het my heeltemal loslyf gesokkie! Bedien met nagereg.

Sluk jou Woorde se goue Rinkink en Loslyf, sowel as sy twee rooi wyne Oorbly en Klaarblyklik, kan met die grootste gemak by Kuberkelder (Cyber Cellar) aangeskaf word. Karen Moyle (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.) is ook gewillig om te sorg dat jou bestelling vinnig by jou afgelewer word.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');