Articles

Kom deel in die gees van die jaarlikse brandewynfees

Koel en nuwerwets, woelig en weelderig… die Fine Brandy Festival wat van 25 tot 27 Mei 2011 by die Sandton-konferensiesentrum gehou word, is dié uithangplek om Suid-Afrika se voortreflikste brandewyne te proe. Boonop spog dié brandewynfees op die plaaslike drankie-kalender, wat vanjaar die vierde keer aangebied word, met heelwat nuwighede wat ’n mens nie durf misloop nie. Dié vlagskip-geleentheid van die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf gaan met brandewyn spog soos nog nooit tevore nie – daar’s koel nuwe gebruike, innoverende leefstylaspekte en ’n heerlik sosiale atmosfeer. Brandewyn is een van die verleidelikste drankies van ons tyd, en Suid-Afrikaanse brandwyn word as die beste ter wêreld beskou – des te meer rede om dié dubbelgedistilleerde goue voggies te kom waardeer by ’n spesiale fees.

 “Ons gaan vanjaar voorwaar die grense versit,” sê Christelle Reade-Jahn, direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting. “Die fees is veel groter en luukser as vantevore – mense het immers die behoefte om hulself met die spesiale dinge in die lewe te bederf.” “Danksy die ongelooflike groei in besoekersgetalle het ons die fees na ’n groter plek verskuif wat meer besoekers, uitstallers en feesgeleenthede kan akkommodeer. Die Sandton-konferensiesentrum is lekker ruim en buigsaam, wat opwindende moontlikhede bied in terme van verbeeldingryke stalletjie-ontwerp, ervarings wat op nuwe tendense fokus, leefstyl-aktiwiteite en vermaak uit die boonste rak,” het sy gesê. Die fees beloof om in die behoeftes van elke brandewynliefhebber te voorsien, met enigiets van wêreldklas-brandewyne, die bekendstelling van nuwe produkte en uitspan-sitkamers, tot can-can dansers, DJ Black Coffee en kos wat brandewyn komplementeer.

Kom verlei die sintuie met hierdie potketel-skatte en skuur skouers met die wie’s-wie’s van die Goudstad, ander fynproewers, groot distilleerders, veelbekroonde brandewynmeesters, enkellandgoed-brandewynmakers en die heel beste mengeldrankiemakers. Nog ’n nuwigheid is ’n reeks vermaaklike en insiggewende Masterclass®-praatjies waaraan ’n groep uitgelese internasionale en plaaslike kenners gaan deelneem. “Maar jy hoef nie ’n brandewyn-fynproewer te wees om die fees te geniet nie. Groentjies kan hulle liefde vir brandewyn aanwakker deur aan ’n manjifieke versameling verouderde Kaapse potketelskatte en versnitbrandewyne van hoogstaande gehalte te ruik en proe,” sê Michael Fridjhon, die feesdirekteur.
 Dit maak ook nie saak of ‘n mens verkies om skemerkelkies te skud, klits of net liggies te roer nie, want by die nuwe Round Bar kan die magdom moontlikhede ontdek word wat in ’n mengeldrankieglas opgesluit is. Hier gaan meesters van mengeldrankies klassieke gunstelinge en kontemporêre nuwe skeppings optower wat die beste eienskappe van brandewyn na vore bring. Daar sal ook ’n innoverende verskeidenheid kamma-mengeldrankies (alkoholvrye drankies wat die geur van brandewyn naboots) beskikbaar wees vir diegene wat moet bestuur of verkies om nie alkohol te gebruik nie.

 By die Brandy Aroma Wheel kan besoekers die neus bederf met die subtiele en komplekse geure van eersteklas brandewyne – van viooltjies tot vanielje, sederhout tot sitrus, sjokolade en sigaardoos, en ment tot mokka. Die Walk of Fame plaas die kollig op die baanbrekers in die bedryf en die brandewyne wat internasionaal as die beste aangewys is. Nog ’n belangrike fokus van die fees is vakman-brandewyne wat slegs in kosbare klein hoeveelhede gemaak en gewoonlik net by die kelder geproe kan word. En ja, die legendariese kuiper uit die hartjie van die Wynland, is terug met sy indrukwekkende vatmaak-kennis en sy geliefde kenmerkende deuntjie. Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting is ’n lid van die ARA, die bedryfsvereniging vir verantwoordelike alkoholgebruik. Die Fine Brandy-fees is ook ’n voorstander van die matige en verantwoordelike gebruik van brandewyn. Corporate Cabs se dienste sal beskikbaar wees. Vir volledige besonderhede oor die feesprogram of om te bespreek besoek www.brandyfestival.co.za of stuur e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  
Praktiese inligting
Fine Brandy Festival
25 tot 27 Mei 2011, Sandton-konferensiesentrum, Sandton
Tye: 17h00-21h00 (geen toegang ná 20h30)
Koste: R195, wat ’n proeglas en -koepons insluit
Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die deur.
Geen besoekers onder 18 jaar word toegelaat nie.
www.brandyfestival.co.za

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');