Articles

Nuwe baas vir SA Brandewynstigting

Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting het onlangs die vroulike aanslag van  aan  Christelle Reade-Jahn as direkteur bekom om aan die stuur van sake te staan. Reade-Jahn is ’n professionele bemarkingstrateeg wat in haar nuwe posisie die bedrywighede van die stigting tot groot hoogtes sal voer. Met haar uitgebreide ervaring in die kommunikasieveld sal sy spesifiek die klem plaas op nuwe media en sosiale netwerke.

Sy het haar die afgelope 20 jaar as bemarkingskenner gevestig, en plaaslik én in die buiteland in verskillende sektore gewerk, van snelbewegende verbruikersgoedere (FMCG), handel en vervaardiging tot ingenieurswese en inligtingstegnologie – by maatskappye soos Unifruco (nou Capespan), CPC Tongaat, en Kimberly Clark – en het ook navorsing in bemarking gedoen vir Kraft en Cadbury Schweppes. Voor haar aanstelling was sy die groepsbemarkings-bestuurder van ’n Suid-Afrikaanse onderneming wat in drie lande sake doen.

Sy is ’n graduant van die Universiteit van Stellenbosch en het ’n diploma in bemarkingsbestuur van die Wits-sakeskool. “Christelle se aanstelling in dié nuwe pos is ’n groot hupstoot vir die Suid-Afrikaanse Brandwynstigting, wat ’n nuwe fase van plaaslike en internasionale bemarkingsaktiwiteite binnegaan,” sê Riaan Marais, voorsitter van die stigting. “Ons sien uit na haar insette om die trefkrag van ons bemarking- en kommuni-kasiestrategieë te vergroot en deur middel van ’n reeks strategiese sleutel-projekte met verbruikers en ander aandeelhouers in die bedryf in gesprek te tree.”

Ontginning van markpotensiaal
Onder die faktore wat volgens Reade-Jahn die groeipotensiaal van die Suid-Afrikaanse brandewynmark positief beïnvloed, tel die deurlopende hoë gehalte van plaaslike brandewyn, gerugsteun deur streng wetgewing, die sterk posisie in die spiritualieëmark, en die wye reeks produkte wat vir die onderskeie marksektore beskikbaar is.
 “Die plaaslike brandewynbedryf is ’n nasionale bate met ’n blink toekoms, veral as ’n mens in ag neem brandewyn verteenwoordig amper die helfte van alle spiritualieë wat plaaslik verkoop word. Boonop toon die belangstelling in premium en superpremium brandewyne stewige groei, en ons brandwyne word gereeld as die beste ter wêreld aangewys. Om hierdie potensiaal oor ’n langer tydperk te verwesenlik is dit noodsaaklik om die gehalteprodukte suksesvol aan die regte marksegmente te bemark, terwyl plaaslike brandwynprodusente hande vat en saam ’n stewige posisie in die bedryf inneem.”

 Reade-Jahn, wat sal fokus op kontemporêre maniere om Suid-Afrikaanse brandewyn te bevorder, sê die hoogs bemarkbare eienskappe van brandewyn sal die hoeksteen vorm vir promosieveldtogte wat daarop gemik is om mense op te voed én opgewonde te maak oor brandewyn. Haar vinger is stewig op die pols van verbruikers se behoeftes en sy beskou hul groeiende behoefte om met andere te skakel en noue verbintenisse te bou as as deurslaggewend. “Daar is heelwat ruimte vir ’n verskeidenheid promosiemedia, wat insluit die gebruik van elektroniese en sosiale mediaprogramme soos Facebook, Twitter en SMS-veldtogte, om met die huidige en nuwe segmente van die mark te kommunikeer.”  

 Pleks van ‘n demper wees, vuur die huidige ekonomiese klimaat haar optimistiese uitkyk aan. “In moeilike tye wil mense steeds hulself met klein luukses bederf. Dis geen verrassing nie dat tendenskenners voorspel die verkope van persoonlike luukseprodukte gaan styg –verbruikers wil steeds hierdie produkte geniet, sonder dat dit hul sak ruk.”
 Reade-Jahn woon op Somerset-Wes saam met haar man, Ron, en hulle seun, James (12). Onder haar stokperdjies tel draf (sy het al ’n hele paar halfmarathons agter die blad), ski en duik. Sy stel belang in die kookkuns en is ’n lid van ’n alternatiewe boek-en-kultuurklub – en, ja, sy versamel brandewyn en geniet haar gunstelingdrankie met ’n skeutjie water.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');