Articles

Laborie se Alambic brandewyn beste in wêreld

Laborie se Alambic brandewyn is vanjaar aangewys as die beste brandewyn ter wêrld by die 2010 Internasionale Wyn & Spiritus Kompetisie (IWSC) onlangs in Londen. Dié toekenning bring die aantal jare dat ‘n plaaslike brandewyn uitgeblink het by hierdie hoogs aangeskrewe beoordeling die afgelope 12 jaar op ‘n ongekende nege te staan. Dit is ook die vierde agtereenvolgende jaar dat ‘n plaaslike brandewyn hier koning kraai. Was dit die titseltjie pinotage-druif wat die knoop deurgehaak het?

“Geskok, maar absoluut verheug,” was die KWV se hoof brandewynmeester, Kobus Gelderblom, se reaksie op die verblydende nuus. “Geskok, want ons het verwag dat van ons ander tradisioneel top-presteerders soos die KWV 15 Jaar of die KWV 20 Jaar die knoop miskien sou deurhaak. Veral omdat beide van hulle al vanjaar by ander vooraanstaande kompetisies goue medaljes verower het en albei voorheen reeds as ‘Beste Brandewyn ter Wêreld’ aangewys is. Maar verheug omdat dit ‘n landgoedbrandewyn is wat slegs in klein hoeveelhede berei is van druiwe afkomstig van Laborie, ons wynlandgoed in die Paarl.’ Volgens Gelderblom beaam die uitslag sy passie vir en geloof in pinotage se geskiktheid as ‘n druifsoort vir die distillering van kwaliteit brandewyn. Dié spesifieke Laborie Alambic, ‘n vyf-jaar-oue potketel brandewyn, is ‘n ongewone versnit van hoofsaaklik chardonnay met ‘n titseltjie pinotage wat in ou rooiwyn- eikehoutvate verouder is.

“Die chardonnay gee struktuur, die pinotage bring wonderlike perske – en appelkoosgeure, en die geheel is afgerond met ‘n bietjie 10 jaar-oue brandewyn om kompleksiteit aan die finale versnit te verleen,’ verduidelik KWV se ervare baasdistilleerder. Die IWSC staan alombekend as ‘n internasionale hoogtepunt vir die toets van tegniese en stilistiese gehalte van die wêreld se beste wyne en spiritualieë. Dit is die mees gevestigde met sy ontstaan in 1969, en word sedert 1978 aangebied in sy huidige formaat. Produkte word blind geproe deur panele bestaande uit kenners met wêreldwye kennis van die spesifieke kategorie en styl wat hulle beoordeel.

Riaan Marais , voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, sê: ‘Die KWV, alreeds ‘n ikoon onder Suid-Afrikaanse brandewyne – dit is immer die sesde keer dat KWV dié toekenning ontvang – is deel van die blink toekoms vir ons plaaslike brandewyne. En dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat dié spesifieke brandewyn, een van die KWV se minder-bekende produkte, so erken word.’ Suid-Afrikaanse brandewyne het algeheel ‘n merkwaardige vertoning by vanjaar se IWSC gelewer. Elkeen van die 31 produkte wat ingeskryf is het óf ‘n goud (12) óf ‘n silwer (19) medalje gewen. Soos Dave Hughes, veteraan internasionale wyn-en-spiritus beoordelaar, voormalige distilleerder en een van die Suid-Afrikaanse kenners wat gereeld by die IWSC proe, uitwys: ‘Vanuit byna 100 brandewyn-inskrywings, het slegs 13 goue medaljes ontvang. Die enigste ander land om goud te wen, met slegs een brandewyn, is Spanje.’

Van die 12 Suid-Afrikaanse goue medalje wenners, is ses as beste in hul klas aangewys, en van die 19 silwers, het drie in hul onderskeie kategorieë bo uitgekom.
Buiten die Laborie Alambic, is die ander Suid-Afrikaanse brandewyne wat goud toegeken is (en as beste in hul klas aangewys is) Flight of the Fish Eagle, Oude Meester Souverein 18 Jaar, Oude Meester VSOB, Van Ryn’s 12 Jaar Distillers Reserve, Van Ryn’s 15 Jaar Fine Cask Reserve, Oude Molen Solera Grand Reserve and Uitkyk Grand Reserve 10 Jaar Estate Brandy. Die ander goue medaljes is verower deur KWV 15 Jaar, KWV Imoya VSOP, Oude Meester Reserve 12 Jaar en Klipdrift Export. Suid-Afrika se 19 silwer medaljes kom uit ‘n totaal van 50 wat toegeken is. Dit sluit in brandewyne van Australië, Bulgarye, Spanje, Frankryk (uitsluitend Cognac wat in hulle eie streekskategorie geëvalueer word), Meksiko, die Verenigde State van Amerika, Kanada en Griekeland. Ander lande was ingeskryf het sluit onder meer Italië , Israel , Moldovië en Portugal in.

Die Laborie Alambic se prestasie, sowel as die uitstaande vertoning oor die algeheel deur Suid-Afrika se brandewyne by die 2010 IWSC, bekroon ‘n jaar van top internasionale resultate vir die land se gewildste spiritusdrankie (omtrent 45-miljoen-liter brandewyn word elke oesjaar hier gemaak, wat byna die helfte van die totale spiritusmark verteenwoordig).
Van buitengewone betekenis by vanjaar se spesialis International Spirits Challenge (ISC) in Engeland, byvoorbeeld, was dat slegs Suid-Afrikaanse produkte – vier brandewyne – daarin geslaag het om goue medaljes in hul onderskeie kategorieë te verower. Suid-Afrika het ook verreweg die meeste silwer medaljes gewen: vyf uit die slegs ses wat toegeken is.

By Europa se vooraanstaande jaarlikse Concours Mondial de Bruxelles, ook onlangs gehou, het twee Suid-Afrikaanse brandewyne goud gewen - die KWV 15 Jaar en die Joseph Barry Cape Pot Still 10 (albei is voormalige IWSC ‘Beste Brandewyn ter Wêreld’ wenners, in onderskeidelik 2007 en 2009). Ses plaaslike brandewyne het silwer medaljes ingepalm.
Alhoewel onlangse groei in die brandewynmark ‘n verblydende skuif na premium brandewyne onder verbruikers toon, is die plaaslike bedryf veral trots dat Suid-Afrikaanse brandewyne oor die breë stylspektrum (insluitende versnitbrandewyn, premium potketel- en oesjaarbrandewyne) internasionaal erken word vir hul voortreflike gehalte.

Sê Marais: ‘En dit is nie slegs die groot distilleerderye met hul bekende handelsmerke wat die wenners verskaf nie; dit is ook die kleiner distilleerderye en wynkelders, wat ‘n aanduiding is van die wydverspreide gehalte en diepte van passie en bekwaamheid onder die brandewymeesters van ons land met sy 350 jaar lange brandewynmaak-tradisie.’   
Marais wys ook daarop dat Suid-Afrikaanse brandewyne vanjaar op nasionale vlak by die Veritas Toekennings sal meeding, wel die eerste keer in die kompetisie se 20-jaar geskiedenis.
“Dié nuwe klas by Veritas verskaf aan die brandewynbedryf ‘n nasionale verhoog om sy slag te wys, asook om die konstante wêreldklas-gehalte van ons brandewyne aan plaaslike verbruikers voor te hou.’

 •         Laborie Alambic brandewyn word slegs in beperkte hoeveelhede gemaak en is beskikbaar van die Laborie Kelder se proelokaal en KWV Wyne se Wine Emporium in die Paarl teen R126 vir ‘n 500ml bottle.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');