Articles

SA brandewyne nou ook deur Veritas beoordeel

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf en dié van die jaarlikse Veritas-toekenings, gaan brandewyne vanjaar ook as deel van hierdie kompetisie beoordeel word. Dié splinternuwe Veritas-kategorie bied die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf, wat tot op hede meestal tot internasionale kompetisies beperk is,  die geleentheid om op plaaslike vlak mee te ding en sy  gehalte ten toon te stel. Die verskillende kategorieë van brandwyn (potketel-, oesjaar- en standaard) sal in hul onderskeie klasse deelneem. Brandewynprodusente wat graag die gesogte dubbelgoud, goud, silwer of brons toekennings wil verower het tot 17 Augustus 2010 om in te skryf vir Veritas.

Volgens Riaan Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandwynstigting is dit ‘n groot erkenning vir die plaaslike brandewynbedryf. “Deelname aan Veritas verskaf ‘n belangrike nuwe platform om die volgehoue uitstaande gehalte van Suid-Afrika se brandewyn te verkondig, wat volgens van die strengste regulasies in die wêreld gedistilleer word.  “Dit is veral verblydend dat brandewyn deel word van Veritas in die jaar waarin die land se grootste wynkompetisie sy 20ste bestaansjaar vier. Dié tydsberekening is uitstekend, want 2010 is ook die jaar wat deur die brandewynbedryf opgedra is om Suid-Afrikaanse brandewyn se uitmuntende prestasies op internasionale wyn- en spirituskompetisies plaaslik te vier met bewusmakingsaksies en ‘n slagspreuk: ‘Suid-Afrikaanse brandewyn: die beste ter wêreld.’

 “Verder is dit veral betekenisvol om deel te word van Veritas - ‘n nasionale kompetisie wat spesifiek spreek tot die Suid-Afrikaanse verbruiker, want ons brandewyn, gekenmerk deur sy eg-Suid-Afrikaanse karakter, is afkomstig van ons eiesoortige grondtipes, sonnige klimaat en produksie-standaarde en, as sodanig bly dit een van ons land se waarlik nasionale produkte en mees kosbare drankies,” het Marais gesê. Volgens Duimpie Bayly, voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging wat Veritas aanbied, was dit ‘n eenparige besluit deur die raad om brandewyn as ‘n nuwe kategorie by te voeg. “Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf deel ‘n trotse geskiedenis wat oor  meer as 350 jaar opgebou is. Dat brandewyn, ‘n edele produk van die druif, nou deel word van Veritas, is ‘n natuurlike uitvloeisel van hierdie noue verwantskap,” het hy gesê.

Soos in die geval van wyninskrywings, sal brandewyne beoordeel word deur spesialis-panele volgens die onomstrede Veritas-beoordelingstelsel wat gekenmerk word deur sy streng en professionele benadering. Dave Hughes, een van Suid-Afrika se veteraan internasionale wyn- en spiritusbeoordelaars, sal as voorsitter dien van ‘n paneel bestaande uit plaaslike en internasionale brandewynkenners. Beoordeling vind plaas by Nederburg se Veilingskompleks in die Paarl vanaf 13 tot 20 September en die uitslae sal bekendgemaak word by ‘n gala-geleentheid op 8 Oktober by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS).
 Inskrywingsvorms en ‘n katalogus vir Veritas 2010 is beskikbaar by www.veritas.co.za of volg die Veritas-roete vanaf die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting se webtuiste by www.sabrandy.co.za.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');