Articles

Derde brandewynfees ode aan SA se bestes

Abraham Valentyn, ervare kuiper van die Van Ryn's brandewynkelder buite Stellenbosch, wys hoe hy sy ambag beoefenDie derde jaarlikse brandewynfees word vanjaar van 5 tot 7 Mei in die Sandton Sun aangebied. Dit word deur Standard Bank geborg en word gewy aan Suid-Afrika se ikoniese elikser. Dit  is 'n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting en dien as gesofistikeerde toonvenster waar besoekers die triomf en suksesse van die land se distilleerders self eerstehands kan ervaar. Vanjaar se tema is 'Suid-Afrikaanse Brandewyn: die wêreld se beste' en dit bied 'n blik op die plaaslike brandewynindustrie se volgehoue uitstekende internasionale prestasies. Dit is 'n samekoms van almal met 'n passie vir hierdie kosbare drankie. Connoisseurs en ontluikende brandewyn-entoesiaste sal skouers skuur met vername distilleerders, brandewynmeesters wat spog met talle toekennings en pryse en kleiner, enkellandgoed brandewynmakers.

Die feesprogram sluit onder meer die grootste versameling Suid-Afrikaanse brandewyne nog onder een dak in, 'n unieke keur van brandewyne in alle style wat die volle spektrum van die bedryf se prestasies weerspieël. Feesgaste sal ‘n wye reeks verouderde Kaapse potketel-skatte kan proe, ruik en ontdek, asook oesjaar- brandewyne met hul unieke karakter en versnit-brandewyne van buitengewone kwaliteit. By die Artisan Collection val die kollig op brandewyne wat in kosbare klein hoeveelhede geskep word en gewoonlik net by die kelder geniet kan word. Die fees se nuwe 2010 Walk of Fame vereer die industrie se pioniers en brandewyn ikone wat al internasionaal bekroon is as dié beste. Die smaakpawiljoen Reis van wynstok tot kuip is iets wat veral brandewyngroentjies leersaam sal vind. By die brandewyn-aromawiel word besoekers trakteer op die subtiele en komplekse geure en aromas van keur brandewyn – dit wissel van viooltjies tot vanielje; van sitrus tot sederhout, sjokolade tot sigare en van ment tot mokka. Nog ‘n nuutjie, die swierige sitkamer Cinema Paradiso, is ‘n gesellige kuier-en kletsplek met ongewone happies soos brandewyn-gebotterde springmielies om saam met brandewyn-meesterstukke te geniet.

 Moderne mengelkunstenaars – "mixologists" – wat deesdae die septer in die kroeg swaai, pak die Raising the Bar- uitdaging aan. Die skemerkelk-skeppers sal met hul kontemporêre aanslag vrydenkende mengelkonkoksies met versnitbrandewyn opdis, asook cocktail-aanhangers aanspoor om nuut te dink oor klassieke kombinasies. Die gewilde Abie Valentyn, Van Ryn se veteraan kuiper met 36 jaar ervaring in dié vakmanskap, bring die tradisionele kuns van handgemaakte vate na die verhoog. Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting is 'n lid van ARA. Besoek www.brandyfestival.co.za vir volledige besonderhede oor die fees of om te bespreek of stuur e-pos na  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

5 tot 7 Mei 2010, Sandton Sun, Sandton. (5 Mei is slegs op uitnodiging)

Tye: 17h00 – 21h00 (geen toegang na 20h30). Koste: R195, dit sluit 'n brandewynglas en koepons vir drinkgoed in. Kaartjies by Computicket of by die deur. Geen besoekers onder 18 jaar oud nie.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');