Articles

Bekende Franse konjak nou ook plaaslik beskikbaar

Gaste sit aan vir die formele proesessieDie beroemde Bisquit-konjak, waarvan die oorsprong terugdateer tot 1819, is nou in Suid-Afrika te kry nadat Distell die handelsmerk gekoop het. Die bekende erfenis-handelsmerk is in 1819 deur die 20-jarige Fransman Alexandre Bisquit  in Jarnac op die oewer van die Charente-rivier gevestig. Hy kom uit ’n familie van distilleerders wat reeds sedert 1750 konjak gemaak en verkoop het, maar is na oorlewering die eerste wat dit met sy eie handelsmerk gebotteleer het. Bisquit is reeds sowat 150 jaar gelede in Suid-Afrika verkoop. Argiefrekords toon dat dit in 1865 by Port Elizabeth ingevoer is. Oorlewering wil dit hê dat dit die gunsteling was van koning George IV en die staatsman Winston Churchill. Dit is ’n gunsteling onder die Franse en ander Europeërs, en toenemend in die Ooste, maar dit was tot onlangs vir die meeste Suid-Afrikaners redelik onbekend.

“Nou gaan dit verder,” sê Lee-Anne Lotz, Bisquit se Suid-Afrikaanse handelsmerkbestuurder.“Die toenemende gewildheid in Suid-Afrika se segment vir spesialis-potketelbrandewyn het groot belangstelling in fynproewersbrandewyn aangewakker, en dit sluit konjak in. Aanvanklike verkope laat ons glo dat Bisquit plaaslik sterk byval sal vind, ” het sy gesê.
Bisquit was vir die grootste deel van sy bestaan in besit van die Bisquit-familie. In 1966 is die onderneming aan die voorganger van die Pernod Ricard-groep verkoop, en Distell het die handelsmerk verlede jaar (2009) weer van dié groep verkry. Bisquit is gesetel in die Château Bisquit, ’n weelderige huis in die middel van die dorpie Cognac. Vincent Chappe, die besturende direkteur van Bisquit-Dubouche et Cie, afstammeling van ’n welbekende familie van konjak-spesialiste, staan daar aan die stuur van sake.

Denis Lahouratate, Bisquit se keldermeester, sê konjak het gewoonlik ’n meer ingetoë en elegante struktuur, in teenstelling met die uitgesproke, ryk druiwesmake van potketelbrandewyne uit die Nuwe Wêreld. Colombard en chenin blanc word die meeste gebruik om plaaslike brandewyn te maak, maar in Cognac staan ugni blanc voorop.
Twee van Bisquit se konjaks is plaaslik verkrygbaar, naamlik die VS Classique en die VSOP Fine Champagne. Die XO Excellence sal later in Suid-Afrika bekend gestel word.
Die VS Classique is ryk goudkleurig, met tikkies amber. “Die neus laat ’n mens dink aan geure van die lente en die somer, soos appels, pere, kersie-pruime en sitrusvrugte, met sweempies wit blomme soos jasmyn en lelies, en ’n bietjie gemmer en vanielje,” sê Lahouratate. “Daar is ’n bevredigende vars en lenige palet van vrugte en hout, en ’n puik vanielje-nasmaak.”

In Frankryk word dit net so of met ’n ysblokkie geniet, maar ook met tonikum of vars pomelosap as ’n verfrissende drankie. “Die VSOP Fine Champagne is donkerder,” sê hy, met “’n vrugte- eerder as ’n blomgeur van droë appelkose, amandels, kaneel en naeltjies wat ’n mens aan die somer en herfs laat dink. Die malse, ronde palet bevat spore van sitrus en vanielje, en daar is ’n intrigerende, byna kamfer-agtige, nasmaak.” Dié konjak, wat ’n goue medalje by die International Wine & Spirit Competition verower het, en in 2009 die hoogste punte in sy klas gekry het, word meestal skoon of met ’n skeutjie water of soda geniet. Die VSOP Fine Champagne kom van die voorste twee Cognac-streke, naamlik Grande Champagne en Petite Champagne.

“Ondanks die naam het dit niks met sjampanje te doen nie. In Cognac word ’n versnit van gande en ptite campagne waarvan minstens die helfte uit die topgebied, Grand Champagne, kom, Fine Champagne genoem.” Die vlagskip-produk, XO Excellence, is ’n versnit van lank verouderde eaux de vie. Dit het die mees intense kleur van die drie, en volgens Lahouratate “’n uitnemende neus met delikate vars blomgeure wat goed met pittige Oosterse geure vermeng is. “’n Mens herken jasmyn, eksotiese houtgeure soos sandelhout, en tikkies kakao en tabak, vrugtelekkers en heuning. Dit is verstommend kompleks en geskakeerd, met geur-elemente van herfs, winter en lente. Dis stewig en gul op die middelpalet, met ’n sysagte en volryk tekstuur.” Die kleinhandelprys van die Classique is sowat R265, en dié van die VSOP sowat R445.

Skrywers proe Bisquit
In ʼn indrukwekkende herehuis in die Franse styl, omring deur laventel, is ʼn klein groepie joerrnaliste onlangs getrakteer op die smaak van Bisquit. Franse parfuums, kanapees vir die smulpaap en die verleidelike stem van ʼn aantreklike chanteuse wat die gaste in die verruklike Kaapse tuin toegesing het, het die toon aangegee vir die glinstergeleentheid op ʼn laat somermiddag. Vir ʼn bietjie ekstra plesier en frou-frou, het dit gewoonlik stemmige joernaliste hulself geklee in ʼn wonderlik romantiese reeks retro-chic bykomstighede regstreeks uit Parys en hul foto’s as ʼn aandenking laat neem. Gedempte sonlig het die bekoorlike goue tinte van die VS Classique verryk, ook die ryp amber skakerings van die VSOP Fine Champagne, wat geteug en geniet is net so of met die geklingel van ys.  Die geleentheid het hom ook geleen tot die bekendstelling van die befaamde “Summit”-skemerkelkie gegeur met gemmer, limonade en lemmetjie

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');