Articles

Wes-Kaap Brandewynroete ontsluit die misterie van die goue vog

Daar is 'n anderse manier om ons wynlande te ontdek, veral nou dat die groen botsels aandui dat die somer oppad is: Die Wes-Kaap Brandewynroete én die R62 Brandewynroete. elk met sy eiesoortige karakter. Brandewyn word van wyn gemaak. Vir wyngeesdriftiges is dit dus nie 'n groot sprong na die volgende vlak nie. Veral ook omdat baie van die Kaap se voorste wynplase sedert 1990 (na verandering van wetgewing) hul eie landgoedbrandewyn kan maak en verkoop. Daarom sal jy uitsonderlike brandewyne vind, internasionaal erken as van die beste in die wêreld (en dit sluit Cognac in) in die wynlande van Stellenbosch, Paarl, Franschhoek en Wellington.

Die Wes Kaap Brandewynroete
Mens kan begin in Stellenbosch by die Van Ryn Brandewyndistilleerdery langs die R301 soos jy in Stellenbosch inry vir ʼn inleiding tot die kultuur en geskiedenis van brandewyn aan die Kaap. Dié pragtige uitstekend-behoue château-tipe gebou staan reeds vir meer as ʼn eeu op die walle van die Eersterivier.
Neem ʼn begeleide toer om die manjifieke, borrelende koperpotketels wat die distilleerwyn produseer, te sien – die Savalles, Hermanns en Woudbergs. Loer na die groot, koel en stil vatverouderingskelders waarvan sommiges tot 20 000 Franse eikehoutvate huisves. Dit is hier waar die distilleerwyn verouder vir ʼn minimum van drie jaar asook die goue en amber kleur en geroosterde-, vanielje- en neutgeure ontwikkel. Besoek die kuipery op die perseel waar die tradisionele manier van vatmaak gedemonstreer word en ou, handgemaakte gereedskap gebruik word.

Leer hoe om brandewyn te neus en te proe. Verken die verskillende style (versnitbrandewyn, potketelbrandewyn en ‘vintage’-brandewyn)  wat Van Ryn maak – verskeie waarvan internasionaal erken word as die beste brandewyn in die wêreld. Proe ʼn verskeidenheid sjokolades gepaar met spesifieke brandewyn-pasmaats.
Dool verder rond in Stellenbosch se wynlande na verskeie bekende wynplase wat nou uitsoek brandewyne distilleer. Stop by Kaapzicht in die Bottelary-heuwels, wel-bekend vir hul rooiwyne, om Kaapzicht se Pure Potstill te proe. Die Steytler-familie vertrou Edmund Oettlé, die organiese boer en distilleerder van Wellington, om hul Colombar druiwe te gebruik saam met Franse eikehoutvate en hul eie brandewyn te distilleer en te verouder. Hierdie lieflike, vrugtige brandewyn word gewoonlik vir vyf of ses jaar verouder, afhangende van hoe dit in die vat ontwikkel. Neem ʼn sirkelroete terug dorp toe op die R304 waar wynmaker Stefan Smit by Louisenhof wag met sy Marbonne Potketelbrandewyn, ʼn versnit wat brandewyn, verouder in Limousin eikehout vir so lank as 16 jaar.

Vat die pad na die R44 na die historiese Uitkyk wat terugdateer na 1712 en ʼn pragtige gerestoureerde herehuis met neo-klasieke Georgiaanse argitektuur wat nogal raar is tussen die Kaaps-Hollandse herehuise in die omgewing. Die Uitkyk 10 Jaar Oud is gemaak van Chenin Blanc wat soms nogal ongewone brandewyn-druifsoorte soos cabernet sauvignon insluit. Die mobiele, miniatuur distilleerdery huisves ʼn koperpotketel op ʼn trok met ʼn plat vervoeroppervlak. Die brandewyn is verouder in vate in die plaas se oorspronklike ou kelder geleë onder die proelokaal. Aan die bopunt van die Helshoogtepas maak die stylvolle en moderne kelder, Tokara, ʼn klein hoeveelheid suiwer 5-jaaroud potketelbrandewyn. Die wyn word berei van Chenin Blanc uit ʼn droëland wingerd ouer as 30 jaar. Dit word gedistilleer in klein, 700-liter tradisionele Pruhlo-koperpotketels en verouder in 20-jaaroud brandewynvate wat ook van Cognac ingevoer is. Geniet in Tokara se proelokaal eksotiese sjokolade met mondvol-brandewyn en ʼn asemrowende uitsig tot by Valsbaai.

Soos jy afsak aan die ander kant van die Helshoogtepas na Franschhoek vind jy die ‘grot teen die berg’, Haute Cabrière. Hier volg Cap Classique spesialis Achim von Arnim nog die tradisionele Champenoise metode waar die laaste pers van sy Chardonnay druiwe vir die produksie van suiwer potketelbrandewyn wat vir drie jaar in Limousin eikehoutvate verouder, gebruik word. Sy Fine de Jourdan volg ander Champenoise brandewynmakers: geen suiker, geen karamel, geen bonifacteurs (natuurlike geurbestanddele wat in die maak van brandewyn plaaslik én in Cognac toegelaat word). By die Haute Cabrière restaurant word brandewyn aanbeveel saam met bloukaas en gepreserveerde vye.
Vir meer inligting oor die brandewynroetes kontak die Suid Afrikaanse Brandewynstigting by 021 809 7617 of epos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');