Articles

Maties wen wynvarsity

Trots en eer was op die spel toe die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad mekaar in die eerste Backsberg Vino Varsity-wynproekompetisie, wat op 14 Augustus op die Backsberg-landgoed in die Paarl gehou is, gepak het. In hierdie kompetisie kom Suid-Afrika se twee oudste universiteite teen mekaar te staan om te bepaal wie die beste proeërs is en wie die beste wynkennis het. “Mededingende wynproe kan nie groter as dit raak nie,” sê Rick Louw, kaptein van die Universiteit van Kaapstad se span, wat deelgeneem het onder die naam Ikey Ice-Buckets. “Die universiteit van Stellenbosch is nie net ons tradisionele opponente nie. Aangesien die Maties hulself in een van die wêreld se bekendste wynstreke bevind, besef ons dit sal uiters moeilik wees om hulle te klop. Wyn kom letterlik by hul ore uit.”

Volgens Louw het hy en sy span proeërs egter hard vir die stryd geoefen. “Daar is hope talent onder ons spanlede, en ons was reg vir die uitdaging wat die Maties – al het ons besef dit was ’n grote.” Andrew Chigorimbo, kaptein van die Universiteit van Stellenbosch se span – die Matie Magnums – besef die druk van verwagting was groot vir die Maties om te wen.
“Wanneer jy aan wyn dink, dink jy aan Stellenbosch,” sê Chigorimbo. “Ons besef dus dat die Matie Magnums die verwagting van ’n ganse streek en gemeenskap op ons skouers dra. Die Ikeys is beslis nie ligtelik opgeneem nie. Hulle weet hulle het niks om te verloor nie, en dat al die druk op ons is. Daar is ’n paar ware sterre in hul span, veral in die merlot- en shiraz-afdelings. Dit was taai.”

Die Vino Varsity-wynproekompetisie, wat gereël is deur Simon Back van Backsberg en Emile Joubert van die wynbemarkingsfirma MediaVision, word oor drie afdelings beslis: blinde proeë, algemene kennis en ’n debat oor die geldigheid van vanjaar se viering van die 350ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse wynbedyf. “Wyn gaan oor kennis en pret – beide kenmerkende aspekte van die studentelewe,” sê Back, ’n voormalige Ikey wat ook die afrigter van die Ice-Buckets is. “Die kompetisie poog om die belangrike rol van wyn onder die studente te bevestig. Sowel die Universiteit van Kaapstad as die van Stellenbosch is geleë in wêreldbekende wynlandskappe. Ons wil die universiteite se gedeelde liefde vir die wingerd deur middel van hierdie kompetisie beklemtoon.

“Dis ook belangrik dat hierdie jong mense se geesdrif en toewyding deur die Suid-Afrikaanse wynbedryf erken word.” Volgens Emile Joubert, ’n oud-Matie en afrigter van die Magnums, kom wen eerste. “Ons het later oor die koeitjies en kalfies gesels,” sê Joubert. “Nadat ons die kompetisie gewen het. En dit was nie maklik nie. Die Ikeys is ’n goed-afgerigte span en met so baie op die spel, het ons geweet dit gaan een helse stryd wees.”
 
Die Maties se wenspan:


 
Agter van links: Stephan Steyn, Roelof Lotriet, Paul Ackerman, Neil Bent, Malcolm Human, Lucinda Watts en Guy Munton.
Voor van links: Alex Reichle en Drew Chigorimbo.
Regs is Simon Back van Backsberg besig om die wentrofee met wyn te vul.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');