Articles

Brandewynvlam brand hoog by tweede fees

Annie Williamson en Mercedes Kollier’n Dekonstrueerde Brandewyn Alexander; ’n hoekie vir connoisseurs om dieper te delf in brandewyn; ’n aromaryke reis van wynstok tot kuip; unieke smake en style brandewyn van 35 voorste distilleerders en klein enkellandgoed-brandewynmakers: die grootste versameling brandewyne ooit was onlangs onder een dak te sien by Suid-Afrika se mees gesaghebbende spiritualieë geleentheid – die GoodLife Fine Brandy Festival. Vanjaar se viering van als wat met brandewyn, insluitend konjak,  is deur ’n menigte mense bygewoon. Dit is vir die tweede agtereenvolgende jaar by die Sandton Sun-hotel gehou. Die brandewynfees is die enigste van sy soort wat volledig gewy word aan die kuns en genot van Suid-Afrikaanse brandewyn, sowel as die volledige spektrum van die bedryf se suksesse. Dit wissel van meesterlike potketelbrandewyne tot baanbreker-mengeldrankies.

Carmen Fourie en Graeme BezuidenhoutDie GoodLife Fine Brandy Festival is ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting in word in samewerking met Standard Bank aangebied. Ander feesvennote sluit Sandton Sun en British Airways in. Die drie-dag fees se tema, "Kontinuïteit in verandering", het gefokus op die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting se missie om mense se aandag te vestig op  die uitstekende verskeidenheid, kwaliteit en veelsydigheid van brandewyn, ’n Suid-Afrikaanse ikoon en een van die land se mees geliefde voggies. "Die 2009-fees het gefokus op innoverende maniere om brandewyn te waardeer," sê Caroline Snyman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting.

"Dit het die verfynde aard en veelsydigheid van Suid-Afrika se brandewynprodukte beklemtoon. Dit hang saam met die  Stigting se voortgesette aktiwiteite om verbruikers op te voed oor die vakmanskap wat nodig is om brandewyn te maak, die proses self en met hoeveel tyd en toewyding die maak van ons keur-brandewyne gepaardgaan." Volgens die feesdirekteur, Michael Fridjhon, weerspieël vanjaar se uitstekende bywoonsyfers, 19% meer as verlede jaar, die groeiende belangstelling in brandewyn.
"Die entoesiasme waarmee besoekers brandewyn ervaar, is ook sprekend daarvan. Die boodskap waarmee feesgangers gelaat is, is dat brandewyn nie net nog ’n drankie is nie, maar ’n unieke Suid-Afrikaanse ervaring in die gesofistikeerde drankiemark is."

Volgens hom is dit ook bemoedigend dat die profiel van die feesbesoekers dui op ’n diverse demografie – daar was mense van alle lewensterreine, kulturele groepe en ouderdomme, en die besoekers was sowel mans as vroue. Die toename in handel en korporatiewe belangstelling is ook ’n verdere hoofstuk in die brandewyn-suksesverhaal.
’n Aansienlike persentasie van die feesgangers wat dit verlede jaar bygewoon het, was vanjaar weer terug om nog meer te leer, proe en koop. Dit dui daarop dat liefhebbers van brandewyn die fees sien as ’n perfekte geleentheid om meer oor brandewyn te wete te kom en om van die beste voorbeelde daarvan ter wêreld te proe. Suid-Afrikaanse brandewyn is ’n integrale en unieke deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, ’n landbou en kommersiële sektor wat tans, volgens Snyman, werk aan ’n beraamde 257 000 mense verskaf. "Hoewel die fees ’n viering is van die moderne era van brandewyn, bly ons geanker in die eeue oue tradisies en streng standaarde vir uitnemendheid waarop die bedryf gebou is."

’n Spesiale smaakpawiljoen, "Die reis van wynstok tot kuip", het bygedra tot breër kennis oor keur brandewyn deur te wys hoe die produksieproses van uitsoek brandewyn verloop en hoe die verouderde produk se eiesoortige aromas en geure ontwikkel. Van Ryn se veteraankuiper Abie Valentyn, ’n kuiper met 35 jaar se ervaring, het gesorg dat die ware vakmanskap van kuipery die nodige aandag en waardering kry. Oom Abie het kuipe gemaak en dit finaal keurig afgerond met sy kenmerkende ritme. Volgens Ielanda Koen, die algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, bevestig die voortgesette sukses van die Good Life Brandy Festival presies hoeveel goeie dinge daar is om by dié geleentheid te vier, geniet en ervaar.

"Ons wêreldgehalte brandewynbedryf word gerugsteun deur wat heel moontlik die strengste en mees presiese regulasies ter wêreld is. Suid-Afrikaanse distilleerders keer jaarliks van die Verenigde Koninkryk terug met armsvol goue medaljes van die Internasionale Wyn-en-spiritualieë-kompetisie en die Internasionale Spiritualieë-kompetisie. Vir die tweede agtereenvolgende jaar en in totaal vir sewe jaar sedert 1991 het ’n Suid-Afrikaanse brandewyn die titel van die beste brandewyn ter wêreld verower." ’n Belangrike faktor wat tot die aantrekkingskrag van die fees bydra, is die bestendige groei in die premium en premium-super brandewynsektor. Volgens Koen skakel die fees met sy stylvolle Salon Privé in by die hedendaagse neiging na weelde en oorvloed.

"Ons kieskeurige mark stel ’n premie op oorsprong en fyn vakmanskap. Die ontdekking van die kuns van kontemporêre brandewyn fasiliteer dié dinge." Almal wat op die uitkyk was vir nuwe neigings by die fees het gegons oor die avant-garde mengeldrankies en drinkbare canapés wat deur twee jong ICA-gekwalifiseerde sjefs, Herman Lensing en Yolandé Schoeman, opgetower is. Dit was die twee jong koskunstenaars se eerste pogings in die interessante nuwe wêreld van molekulêre mengelkuns oftewel "mixology" soos wat dit internasionaal bekend staan. Die kulinêre duo het gespeel met die dekonstruktiewe konsep van "mengeldrankies wat jy kan eet en keurhappies wat jy kan drink" en het die uitsonderlike kompleksiteit van Kaapse brandewyn daarmee illustreer. Hulle is uitgedaag om grense te verskuif met brandewyn en het die nuwe kuns van molekulêre mengelry verken. In antwoord op dié brandewyn-uitdaging het hulle die kroegtoonbank kombuis toe gestuur om mense weer te laat dink oor en proe aan smake en teksture. Hulle het brandewyn se matelose geurmoontlikhede in nuwe en onverwagse vorms vasgevang.

Kreatiewe mengeldrankies wat deur ’n energieke span van Liquid Chefs opgetower is, het bewys hoe veelsydig brandewyn kan wees deur die klassieke te meng met die moderne mengelkuns. Só het hulle byvoorbeeld met een van dié mengelavonture selfs so ver gegaan om aarbeikonfyt by ’n feestelike pienk mengeldrankie te voeg.
Kontak die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting by (021) 809 7617 / This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of www.sabrandy.co.za

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');