Articles

Brandewyn se 350 jaar in Suid-Afrika

Caroline Snymandeur Caroline Snyman, voorsitter van die SA Brandewynstigting
“Ek verstout my en sê dat ons beste wyn-brandewyn met die allerbeste buitelandse tipes kan meeding ... en hoegenaamd geen tree vir hulle hoef terug te staan nie.” Dit is gesê deur die beroemde fynproewer, verteller en skrywer C. Louis Leipoldt, wat meer as 60 jaar gelede oorlede is. Ander het egter maar onlangs dié waarheid weer begin ontdek namate berigte oor internasionale bekronings vir ons plaaslike produsente se brandewyn koerantopskrifte begin haal het. Brandewyn word al sedert Jan van Riebeeck se aankoms in 1652 aan die Kaap geniet. Die Hollanders het die naam brandewijn (letterlik gebrande of gedistilleerde wyn) daaraan gegee, en dit saamgebring toe hulle ’n nedersetting aan die Kaap gevestig het. Plaaslike produksie het egter eers twintig jaar later begin, en word gewoonlik toegedig aan ’n kokshulp aan boord van De Pijl, wat in Tafelbaai voor anker gelê het. Dit was daarna egter net ’n japtrap voor ’n brandewyntradisie stewig onder die Kaap se boere gevestig was.

Die vraag na Kaapse brandewyn het die hoogte in geskiet toe die grondgebied van wat later Suid-Afrika sou word, danksy die ontdekking van diamante in die jare sestig van die 19de eeu en van goud aan die Witwatersrand twintig jaar later, na die noorde toe uitgebrei het. Gelukkige én bek-af prospekteerders moes mos die innerlike versterk en soms van hul mislukkings met hul mynboubedrywighede vergeet. Kaapse brandewyn was ook op maatskaplike vlak ’n groot gelykmaker. André Brink skryf in Brandewyn in Suid-Afrika dat ’n mens in die kroeë waar brandewyn gedrink is, ’n mikrokosmos van die hele samelewing aan die delwerye kon aantref. Dit was die enigste plekke waar die boonste en onderste lae as broeders byeen gekom het. Die rykes het gefuif en die armes het van hul sorge probeer vergeet, en tussen hulle was daar diegene wat maar net die tyd verwyl het.

Sommiges wat by die bedryf betrokke was, het gehelp om ’n tradisie van brandewyn van gehalte te vestig, en hul erfenis leef nou nog in handelsname voort. John Collison, ’n Engelsman wat in 1815 ’n drankwinkel begin het, en Jan van Ryn, wat in 1845 uit Nederland hier aangekom het, is nou nog onder aanhangers van puik brandewyn bekend. Collison is die naam van ’n ligkleurige brandewyn in ’n byderwetse matglasbottel. Die brandewyne in die Van Ryn’s Collection Reserve-reeks word gereeld die wêreld oor bekroon. Die Van Ryn’s-distilleerdery het net in die huidige dekade reeds drie trofeë as Beste Brandewyn ter Wêreld huis toe gebring.

Joseph Barry, na wie die dorp Barrydale vernoem is, is nog ’n bekende naam in Suid-Afrika se brandewyngeskiedenis. Sy naam pryk vandag op twee gewilde potketelbrandewyne wat nog op dié dorp gemaak word. Dan is daar ook nog die Fransman René Santhagen, wat hierheen gekom het met waardevolle kennis van hoe brandewyn in Cognac gemaak word. Hy het sy eerste plaaslike brandewyn in 1910 gebotteleer het, word vandag by die Oude Molen-distilleerdery vereer. Die KWV het die produksie van brandewyn vir die grootste deel van die 20ste eeu beheer. In dié tyd het dit die gewildste spiritualie in Suid-Afrika geword, en al het die sosio-politieke omgewing geweldig baie verander, is dit vandag nog so. Al dink sommige mense wát, is brandewyn nie beperk tot middeljarige wit mans nie, maar geniet volwasse mans van alle ouderdomme dit oral in die land, en al hoe meer vroue drink dit nou saam met hulle. Laasgenoemde is nou verantwoordelik vir 25% van die plaaslike verbruik.

Brandewyn styg bo kultuur, inkomste en geografie uit omdat dit so veelsydig is en uitmuntend by Suid-Afrika se klimaat pas. Die gewildste manier om dit geniet, is oor ys of met ’n mengeldrankie om ’n verfrissende langglasdrankie te skep. Byderwetse skemerkelkies word ook al hoe meer gewild. Brandewyn is steeds Suid-Afrika se “Jan Alleman”-drankie en word met gulheid, vriendskap en gasvryheid vereenselwig, maar in die afgelope dekade was daar ’n opwindende revolusie en het luukse spesialisbrandewyne vir fynproewers op die toneel verskyn. Wysigings aan wetgewing in die jare negentig het hulle só laat groei. Voorheen is net een soort brandewyn – versnitbrandewyn – toegelaat. Dit is teen 43% alkohol per volume (AVB) gebotteleer, en is met ’n mengeldrankie geniet. Dit moes minstens 30% potketelbrandewyn bevat wat minstens drie jaar lank verouder is, en die res kon uit tot 30% onverouderde wynspiritus bestaan.

Toe die Wysigingswet op Beheer oor Wyn en Spiritus van 1990 aanvaar is, is twee nuwe brandewynkategorieë naas versnitbrandewyn toegelaat, naamlik potketel- en oesjaarbrandewyn, wat albei teen 38% AVB gebotteleer is. Potketerbrandewyn word gestook in tradisionele koper potketels wat die vlugtige geure in die distillaat veel beter bewaar as die vinniger kolomketel wat vir meer kommersiële brandewyn gebruik word. Potketelprodukte moet minstens 90% potketelbrandewyn bevat wat minstens drie jaar lank verouder is, en die res kan onverouderde druiwespiritus wees, hoewel baie potketelbrandewyne nét van potketelbrandewyn gemaak word. Oesjaarbrandewyn moet minstens 30% potketelbrandewyn bevat wat minstens agt jaar lank verouder is, en hoogstens 60% druiwespiritus wat minstens agt jaar lank verouder is, en hoogstens 10% onverouderde druiwespiritus.

Die streng plaaslike wetgewing wat die produksie van brandewyn beheer, word as die grootste rede vir Suid-Afrika se se al groter internasionale aansien beskou, en plaaslike produsente het sedert 1990 ’n allemintige nege maal met die trofee vir die Beste Brandewyn ter Wêreld van die International Wine & Spirit Competition in Londen huis toe gekom, waar hulle met produkte van Frankryk, Spanje, Italië en Kalifornië meeding . Internasionale en plaaslike brandewyngeesdriftiges sorg nou dat puik Suid-Afrikaanse aanbiedings deel van hul portefeulje uitmaak, en geniet dit nie net as ’n aptytwekker nie, maar ook met fynproewersdisse. Die al hoe groter belangstelling in spesialiskoffie en -sjokolade bring ook meer belangstelling in luukse brandewyn mee.

Toenemende trots op Suid-Afrika en toenemende erkenning van ons wêreldklasgehalte, tesame met ’n wisselvallige rand, beteken dat al meer plaaslike verbruikers ingevoerde spiritualieë laat links lê en eerder die al groter aanbod van Kaapse fynproewersbrandewyne op die proef stel, sê Caroline Snyman, voorsitter van die SA Brandewynstigting.
“Ons jaarlikse brandewynfees, wat in Mei in Johannesburg aangebied word, het ’n baie belangrike toonkas vir die bedryf geword, en lok ʼn groeiende getal gesofistikeerde jongmense.
“Brandewyn styg tans na nuwe hoogtes. ʼn Mens sien dit in kosmopolitiese stylkroeë of restaurante en veral in die huise van gulhartige Suid-Afrikaners.”

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');