Articles

Brandewyn-legendes vereer

Caroline Snyman, voorsitter van die SA Brandewynstigting, Danie Grundling, nuwe lid van die Brandewyngilde en Ielanda Willemse, bestuurder van die SA BrandewynstigtingWat het Kgalema Motlanthe, Trevor Manuel en die Soweto-entrepreneur Fanny Mokoena in gemeen met die wynbeoordelaar en -skrywer Dave Hughes, die stooklegende Danie Grundling en die brandewyn- en toerismepersoonlikheid Pietman Retief? Hulle is almal lede van die Suid-Afrikaanse Brandewyngilde. Tydens die jaarlikse Suid-Afrikaanse Brandewynstigting se gala-dinee wat onlangs in Stellenbosch gehou is, is Pietman Retief saam met Dave Hughes en Danie Grundling as nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Brandewyngilde ingelyf.

Hulle sluit aan by 44 ander gildelede wat reeds erkenning ontvang het vir hul belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf. Diegene sluit in prof André P Brink; dr Franklin Sonn, die akademikus en voormalige ambassadeur; die Kaapse wynpersoonlikheid Duimpie Bayly, die restaurateur en fynproewer Peter Veldsman; die sakeman Khehla Mtembu asook die kosskrywer Magdaleen van Wyk. “Die Brandewyngilde is geëerd om hierdie nuwe lede se toewyding tot die bedryf te erken,” sê Caroline Snyman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting. “Brandewyn in Suid-Afrika is ʼn integrale deel van die land se kultuur en dra ook aansienlik by tot die ekonomie.” Die nuwe lede is verbind tot die bevordering van Suid-Afrikaanse brandewyn as ‘n kultuurproduk van uitsonderlike gehalte; bevordering van die verantwoordelike gebruik daarvan, asook ‘n waardering van die eienskappe, herkoms, produksie en integriteit van eg-Suid-Afrikaanse brandewyn.”

Volgens die brandewynmanifes is gildelede ook daartoe verbind om ʼn trots te skep onder diegene betrokke in die produksie, verspreiding en bemarking van Suid-Afrikaanse brandewyn. Hulle is ook verbind tot die handhawing en verbetering van die hoë standaard van Suid-Afrikaanse brandewyn. Pietman Retief is ‘n voormalige direkteur van die Brandewynstigting en het ʼn beduidende bydrae gelewer om die verfynde beeld van ons brandewynbedryf uit te bou. Van sy vele prestasies sluit in die stigting van Suid-Afrika se eerste brandewynroete in 1997 – tot op die dag 325 jaar nadat brandewyn vir die eerste maal in Suid-Afrika gedistilleer is.

“As mense sien hoeveel liefde, aandag, tyd en kennis in elke bottel brandewyn ingaan, sal hulle ʼn groter waardering vir die produk ontwikkel,” glo Pietman. Sedert sy uittrede beoefen hy sy belangstellings - wat wissel van wyntoerisme tot historiese geboue – met dieselfde ywer en energie wat hom die titel as Suid-Afrika se Mnr Brandewyn besorg het.
Dave Hughes is, naas skrywer van vele boeke oor drank en verwante onderwerpe,  ook distilleerder, wynmaker en opvoeder. As internasionale wyn- en spiritualieëbeoordelaar is hy ook die stigter van die Kaapse Wynakademie en die Kaapse Wyn- en Spiritualieë- Opvoedingstrust. In 2001 is hy genooi om aan te sluit by die Worshipful Company of Distillers (ʼn Londense Gilde gestig in 1638) en word hy die eerste nie-Britse inwoner ooit om lid van dié Gilde te word. Hy is lid van die British Wine Guild en ʼn lewenslange lid van die International Wine and Food Society. Dave het ook al tien Comrades-marathonne voltooi.

Danie Grundling is woonagtig op die plaas Sandkoppies net buite Oudtshoorn. Dit is hier waar die vyfde geslag Grundlings boer en waar die tuiste van Grundheim Wyne gevind kan word. Danie  het  die distilleerkuns op ʼn vroeë ouderdom van sy pa geleer en is ʼn ware kampioendistilleerder met verskeie toekennings en medaljes as toevoeging tot sy status as ‘stooklegende van die Klein-Karoo’. Hy is ook ʼn brandewynpionier en meester storieverteller. Danie se ongelooflike kennis word alom bewonder en hy word gerespekteer daarvoor dat hy dit met almal deel.  Hy dien ook in die bestuurskomitee van die Suid-Afrikaanse Landboudistileerdersgilde waarvan hy mede-stigter is. Danie se klassieke Ou Wêreld-styl wat hy oorgedra het aan sy seun, Dys, is nie net deel van die Grundheim-erfenis nie, maar ook van die  Suid-Afrikaanse brandewynbedryf as geheel.
Vir meer inligting, kontak die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting by 021 887 3157 /This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it." target="_blank"> This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of  www.sabrandy.co.za

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');