Articles

Wit goud – ‘n nuwe era vir brandewyn

'n Nuwe soort brandwyn wat uniek in Suid-Afrika is, gaan nuwe reëls vir spiritualieë daarstel. Collison's White Gold, wat oor ’n tydperk van bykans tien jaar ontwikkel is, is luuks verby – 'n potketelproduk wat op 'n loslitmanier halfpad tussen bruin en wit spiritualieë staan. Dit word gemaklik in 'n wulpse fles, deels van ysglas, met 'n aanloklike tansanietkleurige voet en 'n gesofistikeerde silwer seël aangebied, en is gereed om mengeldrankies op dié vinnig groeiende terrein aan te pak. Die ontwerp was plaaslik, maar die flesse kom van Frankryk en die kapsule van Spanje. Me. Michelle van Schalkwyk, Collison’s se bestuurder van handelsmerkontwikkeling, meen daar is niks wat naby die produk kom nie.

Die brandewyn bring hulde aan die baanbreker Collison-broers John en Francis, wat in 1815 uit Engeland Kaap toe gekom het en hier veel hoër produksiestandaarde vir brandewyn geskep het. Francis Collison se brandewyn is só hoog aangeslaan dat sy voorletters, FC, dekades lank met brandewyn self vereenselwig is. Selfs jare ná sy dood was dit nog steeds so.
Die nuwe brandewyn is geskep deur die span wat die land twee maal ná mekaar by die International Wine & Spirit Competition in Londen die titel Worldwide Best Brandy besorg het.
"Ons probeer om 'n besonder ligte kleur en smaak te skep, met die klem op die druif en soet speserye. Hiervoor het ons die vate streng gekeur en die brandwyn op die koelste plek in die kelder stadig laat verouder om 'n subtieler profiel te skep," het Van Schalkwyk gesê. Die brandewyn word drie jaar lank in spesiaal uitgesoekte groot Franse eikehoutvate verouder, en toon 'n vrugtige neus van vye, met 'n tikkie haselneute en vanielje, en 'n baie gladde palet.

"Dit is op 'n manier sowel nuut as bekend, en dis skoon of in mengeldrankies ewe lekker," het sy die brandewyn beskryf. Danksy só ‘n indrukwekkende rekord en 'n gróót bemarkingsveldtog wat op 'n lewenstyl van duur bykomstighede konsentreer, gaan dit 'n nuwe element by die segment vir spiritualieë voeg deur tradisionele skeidslyne te laat vervaag. Gesofistikeerde brandwyndrinkers, asook nuwe toetreders is in die visier, en dit gee selfs sterker stukrag aan 'n steeds groeiende brandewynmark wat verlede jaar rekordverkope van 48 miljoen liter aangeteken het. Brandewyn is die voorste sterk drank in Suid-Afrika en verkoop twee maal beter as whisky, die naasbeste verkoper.

Sy sê Collison’s White Gold glip maklik by enige skemerkelkie in, en gaan beslis baat by 'n nuwe belangstelling in mengeldrankies wat deur films en die media aangewakker word.
"Die outydse ritueel van skemerkelkies is weer ontsettend gewild in Europa en Amerika, en nou ook hier in SA. Die aanbieding kraai koning, en Collison's se styl staan uit. Op 'n kleinhandel- of kroegrak trek dit aandag, en die puik gehalte stel nie teleur nie." Dit bevat 38% alkohol per volume, en die kleinhandelprys gaan na verwagting omstreeks R150 per 750ml-bottel wees, wat met ander luukse-handelsmerke van orals ter wêreld meeding.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');