Articles

Brandewynfees vanjaar vir eerste keer in Kaaapstad!

Op 9 en 10 Mei gaan die Kaap sy ware kleure wys wanneer die uiters suksesvolle brandewynfees, wat tot dusver nog net in Johannebsurg aangebied is, ook sy verskyning in die Moederstad maak. Die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum is die plek waar brandewynliefhebbers suid van die Gariep bymekaar gaan kom vir ‘n luukse toonvenster van die land se beste brandewyne en die glansryke leefstyl wat daarmee saamkom. Vir sy Kaapse debuut spog die fees met die tema “Celebrate Liquid Gold”. Fine Brandy Fusion Sandton, wat vanjaar die 6de keer gehou word, word van 26 tot 28 Junie 2013 weer in die Sandton-konferensiesentrum aangebied.

“Stel jou voor hoe opgewonde ons is om die uiters suksesvolle Fine Brandy Fusion in Kaapstad aan te bied, boonop net ’n hanetree van die plek waar die eerste brandewyn 341 jaar gelede op ’n skip in Tafelbaai gestook is,” sê Christelle Reade-Jahn, direkteur van die SA Brandewynstigting. Daar sal heelwat te sien, doen, ruik en proe wees vir die jonges, byderwetses, gesofistikeerdes en fynproewers wat na dié glansryke vlagskip-geleentheid stroom om Suid-Afrika se internasionaal bekroonde brandewynbedryf van nader te leer ken. Die brandewynfees is die volmaakte kruising tussen partytjie en leerkuwe, en weerspieël brandewyn se prettige én verfynde kant met ’n eiesoortige mengsel van kulture en style.

“Ons vier die fees se opwindende Kaapse debuut met ’n paar splinternuwe konsepte asook gewilde hoogtepunte wat weer hulle opwagting maak – van smaakverskuiwende mengeldrankies tot die eeue oue kuns van vatmakery,” sê Reade-Jahn. Die bekende persoonlikheid Proverb, wat ook ’n groot brandewyn-entoesias is, gaan as seremoniemeester optree, terwyl burleskdansers, lieflike interaktiewe handelsmerkruimtes en boetiekstalletjies verdere skop sal verleen. ’n Wêreld-eerste by die fees is die nuwe Urban Brandy Cocktail-roete. Hierdie kreatiewe konsep is ’n moderne verlenging van die gewilde R62- en Wes-Kaapse brandewynroete wat besoekers met styl van Clifton na Seepunt na die hart van die Moederstad sal neem.
Maak ook ’n draai by die spoggerige Fusion Bar waar ”Fynbos”, die FHM-mengeldrankie van die jaar, en verskeie ander smaakverskuiwende skemerkelkdrankies die buitengewone veelsydigheid van brandewyn na vore sal bring. Die wenner van die Collisons Cosmo-mengeldrankie-kompetisie sal ook te proe wees.

Danksy die opwindende formaat van Fine Brandy Fusion kan hiperluukse leefstylhandelsmerke soos Montblanc en Nespresso hier skouers skuur met beroemde brandewynhuise en enkellandgoed-boetiekbrandewyne wat van voortreflike vakmanskap getuig. Die fees is ook die perfekte plek om nuwe produkte aan die mark bekend te stel, en die bedryf gons reeds oor wie die bekendstelling van Van Ryn’s 30 Year Old AU.RA, wat verlede jaar die tonge laat klap het, gaan probeer oortref. Verskeie nuwe klein boetiekbrandewyndistilleerders kom maak ’n draai by die Potstill Lounge, waar jy hulle beperkte hoeveelheid vloeibare goud kan proe. Die saamtrek is trots op sy reputasie as sosiale saamtrek en leerervaring, en brandewynentoesiaste kan hulle aansluit by meesterklasse wat elke uur aangebied word en só gewild is dat jy beslis voor die tyd moet bespreek.

Daar is eenvoudig niks soos Suid-Afrika se beste brandewyn enige ander plek ter wêreld nie, en omdat die room van die Suid-Afrikaanse brandewyn-oes hier onder een dak byeengebring word, kom ’n paar voortreflike konjaks uit Frankryk ook hier skouers skuur. Feesgangers sal self kan proe waarom Suid-Afrikaanse brandewyne internasionaal so hoog aangeslaan word en gewild is onder fynproewers reg oor die wêreld. Die Walk of Fame gaan spesifiek die aandag vestig op die wêreldoorheersing van Suid-Afrikaanse brandewyne, wat by die Internasionale Wyn-en-spiritualieëkompetisie (IWSC) die toekenning “Beste Brandewyn Wêreldwyd” nie minder nie as 14 keer gewen het – boonop die afgelope ses jaar agtereenvolgens. Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting is ’n lid van ARA. Fine Brandy Fusion ondersteun die matige en verantwoordelike gebruik van brandewyn. Corporate Cabs se dienste sal beskikbaar wees.

(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');