Articles

SA brandewyne steeds aan voorpunt by internasionale brandewynskou

Internasionale brandewynfynproewers is steeds in vervoering oor Suid-Afrika se voortreflike “vloeibare goud”: agt van die land se voorste brandewynhandelsmerke is met goue uitmuntende toekennings bekroon by die 2013 International Wine and Spirit Competition (IWSC) wat verlede maand in Londen gehou is.

Drie potketelbrandewyne van die Van Ryn’s-brandewynkelder buite Stellenbosch tel onder die uitverkorenes wat ’n puntetelling van 90 of hoër op die 100-puntskaal behaal het: die Van Ryn’s Collectors Reserve 20 Year Old, die Fine Cask Reserve 15 Year Old en die Distillers Reserve 12 Year Old. Die ander brandewyne wat ook met ’n goue uitmuntende toekenning vereer is, is die Oude Meester Souverein 18 Year Old en Reserve 12 Year Old, die Nederburg Solera Potstilled (’n drie jaar oue brandewyn) en die Mellow-Wood- en Commando-versnitbrandewyne.

Nege ander brandewyne is met ’n goue toekenning bekroon: Imoya, Mellow-Wood Five Year Old, Van Ryn’s Vintage 10 Year Old, Richelieu Export Liqueur Brandy, Richelieu Old Vintage Brandy 10 Year Old, Oude Meester Demant, Klipdrift Premium, Collison’s White Gold Potstilled en Viceroy Five Year Old.

Volgens Dave Hughes het Suid-Afrika, wat ook 10 silwer uitmuntende toekennings en drie silwer toekennings gewen het, die meeste inskrywings (40) opgelewer naas Cognac (56) en Armagnac en Calvados (47). Hughes, ’n gekwalifiseerde distilleerder en hoogaangeskrewe plaaslike en internasionale wyn- en spiritualieëbeoordelaar, is ’n gereelde proeër by die IWSC. Hy was een van 17 brandewynproekenners van reg oor die wêreld, onder meer uit Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Italië en Indië, en het gedien in twee blindproepanele van minstens vyf beoordelaars elk wat oor ’n tydperk van drie dae die meer as 200 inskrywings moes beoordeel.

Suid-Afrika se toppresteerders het komplimente soos “ ’n meesterstuk van satisfaksie”, “ongelooflik ryk”, “bevredigend en ontspanne op ’n luukse manier” en “voortreflike balans” ontlok.

Hughes het vantevore gesê “Suid-Afrika se moderne brandewyne is merkbaar vrugtig en elegant, veral omdat ons wingerde genoeg son kry. Dit is duidelik dat internasionale beoordelaarspanele – hoofsaaklik die voorste Britse en Europese spiritualieë-aankopers en -distilleerders (ook uit Cognac) – hierdie kenmerkende styl brandewyn geniet.”

Hy wys verder daarop dat Suid-Afrikaanse brandewynmakers danksy navorsing deur ’n plaaslike brandewynmeester nou die wêreldkenners is oor die uitwerking wat houtveroudering op goeie wynspiritualieë het. “Die verandering in styl van die tradisioneel swaar gehoute konjak, wat talle lande steeds probeer naboots, kan toegeskryf word aan die beter bestuur van die verouderingsproses in vate wat fyn uitgesoek en rypgemaak is.”

olgens Christelle Reade-Jahn, direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting, kan die plaaslike bedryf veral trots wees op die feit dat Suid-Afrikaanse brandewyne van oor ’n breë stylspektrum – versnit-, vintage- en potketelbrandewyne – internasionale erkenning kry vir hulle voortreflike gehalte.


(function(i,s,o,g,r,a,m){i['GoogleAnalyticsObject']=r;i[r]=i[r]||function(){ (i[r].q=i[r].q||[]).push(arguments)},i[r].l=1*new Date();a=s.createElement(o), m=s.getElementsByTagName(o)[0];a.async=1;a.src=g;m.parentNode.insertBefore(a,m) })(window,document,'script','https://www.google-analytics.com/analytics.js','ga'); ga('create', 'UA-61966984-1', 'auto'); ga('send', 'pageview');