SA-wynbedryf in kollig
’n Eenmalige geleentheid om Suid-Afgrika as skouspelagtige land, sy uitsonderlike wynmaakgemeenskap en sy sauvignon blanc op ’n internasionale verhoog ten toon te stel, is om die draai.
Hoewel dit ’n uitdagende tyd is vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, is die opwinding om die grootste en mees gesogte sauvignon blanc-kompetisie ter wêreld vir die eerste keer ooit in ’n Nuwe Wêreldland, in Afrika – en spesifiek op Suid-Afrikaanse bodem aan te bied – tasbaar.
“Hierdie is ’n droom wat waar geword het,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc Suid-Afrika. “Ons het vier jaar gelede met onderhandelinge met Quentin Havaux, direkteur van die Concours Mondial du Sauvignon, begin. Na maande en maande se samesprekings, vennote aan boord bring en byna onmoontlike planne wat gemaak is, pluk ons die vrugte van ons arbeid. Dis hier. Dit is nou. Wat ’n wonderlike geleentheid vir ons kultivarorganisasie, ons wynbedryf en ons land om ons veerkragtigheid, uitnemendheid en Mzansi-gees ten toon te stel.”
Wêreldkundiges
Die Concours Mondial du Sauvignon vind van Maandag 13 tot Vrydag 17 Maart by die Le Franschhoek Hotel en Spa in Franschhoek plaas. Beoordeling vind oor drie dae plaas en die uitslae word Maandag 20 Maart 2023 in Düsseldorf, Duitsland, bekendgemaak by Prowein, die enigste internasionale handelskou wat die volledige wêreldmark dek.
Meer as 1 000 sauvignon blanc-wyne sal meeding om die aandag van 50 beoordelaars – waarvan 40 internasionaal en 10 plaaslike wynkenners is. Uitgesoek met die hand van regoor die wêreld, sluit die paneel van kundige proeërs in Andrea Amadei, joernalis by Decanter in Italië, Jean Smullen, joernalis en wyngeleentheidsbestuurder in Ierland, wynskrywer Paula Sidore van Duitsland, Peter De Leeuw, besturende direkteur van Kaapwijn Import De Leeuw in België, Christophe Bourgeois, wynprodusent in Frankryk, Daphne Teremetz, wynaankoper by Waitrose in Groot-Brittanje en Stefan Potzinger, President van die Oostenrykse Wynvereniging. Die res van die internasionale kontingent kom uit Brasilië, Kroasië, Denemarke, Italië, Mexiko, Nederland, Noorweë, Pole, Spanje, Swede, Oostenryk, België, Duitsland, Frankryk, Groot-Brittanje, en die Verenigde.
Bekende Suid-Afrikaanse beoordelaars wat by die paneel aansluit is Kaapse Wynmeesters dr Winnie Bowman en René Groenewald, asook Heidi Duminy, Francois Rautenbach, dr Carien Coetzee, Cathy Marston, Christian Eedes, Fiona McDonald, Joseph Dhafana en Malu Lambert. Gedurende die kompetisie word Suid-Afrika se opwindende sauvignon blanc-streke ook ten toon gestel deur daaglikse uitstappies na Durbanville, Constantia Wynvallei en Stellenbosch, en met spesiale aandetes wat deur Diemersdal, Groot Constantia en Vergelegen aangebied word.
Om hierdie kompetisie na eie bodem te bring, was geen geringe prestasie nie.
“Kollektiewe ondersteuning van die bedryf was instrumenteel om hierdie geleentheid ’n werklikheid te maak,” sê Botha. “Ons is uiters dankbaar vir die ondersteuning van ons platinumvennote, Vinventions, Concours Mondial de Bruxelles (wat die tegniese organisasie van die proeë behartig), die Nasionale Konvensieburo en WESGRO, en ons bronsvennote Boutes, Tonnellerie Garonnaise, Tonnellerie Sylvain, Enartis, Beveratech, FNB, Porex, Hillebrand GORI, en Anchor Yeast, asook alle ander geleentheid- en mediavennote.
“Hierdie is ’n wonderlike platform vir al ons vennote om deel te wees van ’n positiewe Suid-Afrikaanse handelsmerkstorie. Dankie vir elkeen se samewerking om die beste wat Suid-Afrika te bied het, ten toon stel.”
Sauvignon-safari
Hoewel die Concours Mondial slegs ʼn handelskompetisie is, is die goeie nuus vir sauvignon-liefhebbers dat ’n sauvignon-safari in die Kaapse Wynlande aangebied sal word as deel van die Internasionale Sauvignon Blanc-dag vieringe in Mei 2023. Die sauvignon-safari is ’n interaktiewe om-die-wêreld sauvignon blanc-ervaring, insluitende ’n proe van Concours-mededingende wyne, sowel as trofeë-, goue- en silwermedaljewenners, soos aangekondig in samewerking met Wines of South Africa (WoSA) by Prowein op Maandag 20 Maart in Düsseldorf, Duitsland, asook aanlyn by www.cmsauvignon.com